Sutta Nipāta 1.12
Die wyse
Gehegtheid bring vrees voort, huislike saamleef vuilheid.
Huislose onthegting—dit is die wyse se insig.Wie uitroei wat groei,
nie plant en nie laat uitloop nie
noem hulle enkellopende wyse:
die groot siener wat die staat van vrede aanskou.Die wyse ken die grond, vernietig die saad, laat dit doodloop:
hy sien die einde van geboorte en ontgroei die dinkgewas—
sy maat word nie geneem nie.Die wyse ken al die rusplekke van die gees
en het nie een van hulle nodig nie;
hy streef nie meer met drif en drang nie
want hy het die anderkant bereik.Wie intelligent alles oorwin het
en deur niks besoedel nie alles weet,
wie alles afgelê het en met die vernietiging van begeerte vry is
ken die mense wat weet as wyse.Wie plig en deug doen
met krag van wysheid en kalmte van gees,
besinnend, aandagtig, onverbonde, mild, sonder smet,
ken die mense wat weet as wyse.Wie as wyse enkel swerf en waaksaam
ongeroer deur lof en blaam
soos ’n leeu nie skrik vir geraas,
soos wind nie haak in ’n net,
soos ’n lotus nie vuil word in water—
nie ’n volgeling nie maar ’n leier van ander,
ken die mense wat weet as wyse.Wie as ander verregaande dinge oor hom sê
vry van drif met sintuie kalm gerig
stewig soos ’n suil in ’n stormvloed staan,
ken die mense wat weet as wyse.Wie reguit soos ’n weefspoel trek,
bose dade verfoei
en reg en verkeerd onderskei,
ken die mense wat weet as wyse.Wie—jonk of oud—beheers is
en nie boosheid pleeg nie,
nie kwaad word nie en nie kwaad maak nie,
ken die mense wat weet as wyse.Wie leef van wat gegee word
en sonder kruip of kla sy porsie neem
of dit nou bo lê of van die oorskiet is,
ken die mense wat weet as wyse.Wie afsien van seksverkeer, dronkenskap en ledigheid
en selfs in sy jeug aan niks verknog nie
as wyse volkome vry swerf,
ken die mense wat weet as wyse.Wie die wêreld deurskou
en onafhanklik en onbesoedeld die allerdiepste sien,
alle bande lossny en die seevloed oorsteek,
ken die mense wat weet as wyse.Ongelyk is dié twee en ver verwyderd in woonplek en lewe:
die getroude burger en die selflose kluisenaar;
die burger wat vrylik lewe vernietig
en die wyse wat altyd lewe beskerm.Soos die pou met sy spogblou nek en kuif
nooit die spoed van die swaan sal behaal nie,
so is die burger nie gelyk aan die monnik nie,
aan die wyse wat afgeskei in die woud mediteer.