Sutta Nipāta 2.7

Brahmaanse pligte

Aldus het ek gehoor:

By geleentheid het die Deurlugtige in die buurt van Savatthi gewoon, in die Jeta-plantasie in Anathapindika se park. ’n Groot aantal welgestelde brahmane van Kosala, baie gevorderd in jare en afgeleef, het na die Deurlugtige gekom, hom vriendelik gegroet, eenkant gaan sit en hom gevra:

‘Eerbiedwaardige Gotama, leef brahmane deesdae volgens die pligsvoorskrifte van die brahmane van ouds?’

‘Nee, brahmane leef deesdae nie volgens die pligsvoorskrifte van die brahmane van ouds nie.’

‘Eerbiedwaardige Gotama, as dit nie moeite is nie, vertel ons dan asseblief van die brahmane van ouds.’

‘Brahmane, luister aandagtig. Ek sal verduidelik.’

‘Ja, meester,’ het die brahmane die Deurlugtige geantwoord, en die Deurlugtige het gesê:

‘Die heiliges van weleer was waaragtig en gedissiplineerd van gees:
hulle het die vyf koorde van genieting laat val en so hul ware welsyn beleef.

Vee, goud en rykdom het die brahmane nie gehad nie:
studie was hul skat en graan, en dié het hulle as ’n verhewe weelde beskerm.

Die kos wat vir hulle in geloof voorberei en voor die deur neergesit is
het hulle gemeen moet geskenk word aan diegene wat soek.

Met veelkleurige gewade, beddens en huise
het welvarende provinsies en koninkryke aan daardie brahmane eer bewys.

Onaantasbaar was die brahmane, onskendbaar en beskerm deur die Waarheid.
Niemand het hulle weggewys van enige huis se deur nie.

Agt en veertig jaar lank het hulle jeugdige kuisheid beoefen.
Vroeër was hulle altyddeur op soek na kennis en deug.

Hulle het nie met ’n ander se vrou geslaap nie en nie ’n vrou gekoop nie.
Eensgesind het man en vrou bymekaargekom en saam vreugde gevind.

Hulle het slegs ná menstruasie seksueel verkeer.

Kuisheid, deug, eerlikheid, saggeaardheid, dissipline,
toegeeflikheid, geweldloosheid en volharding het hulle geprys.

Die grootste brahmaan, die sterkste, het nooit seksueel verkeer nie,
selfs nie in ’n droom nie.

Sommige wat wys van aanleg was het sy voorbeeld nagevolg
en kuisheid, deug en volharding in hierdie lewe geprys.

Hulle het by die bring van die offer vir rys, ’n bed, klere, botter en olie gevra,
dit op die voorgeskrewe manier verkry, maar nie koeie doodgemaak nie.

Soos moeder, vader, broer en ander verwante is koeie ons beste vriende—
hulle in wie medisyne voortgebring word,

wat kos, krag, skoonheid en geluk skenk.
In die wete van hierdie winste het hulle nie koeie doodgemaak nie.

Die brahmane was sagsinnig, fors, aantreklik, geëerd, ywerig
in wat volgens hulle voorskrifte gedoen en gelaat moet word.
Vir solank as dié gehandhaaf is, het hierdie gemeenskap gelukkig op aarde gefloreer.

Maar hulle het verander.
Namate hulle geleidelik aanskou het
die heerlikheid van konings, die skoonheid van vroue,

opreggeteelde perde voor karre met fyn gordyne,
huise en paleise pragtig beplan en uitgelê,

het die brahmane gesmag na die groot rykdom van mense,
om omring te wees deur beeste in die geselskap van groepe pragtige vroue.

Hulle het liedere gekomponeer en Okkaka opgesoek:
“Jy het baie skatte. Maak ’n offerhande van jou rykdom, van jou skatte.”

Toe, omgepraat deur die brahmane, het die koning, die heer van karre’
die perde-, mens-, water- en drankoffers gebring en rykdom aan die brahmane geskenk:

beeste, beddens, klere, pragtige vroue, opreggeteelde perde voor karre met fyn gordyne

en pragtige goedbeplande huise vol allerhande soorte graan,
So het hy rykdom aan die brahmane geskenk.

Maar toe hulle rykdom verkry het, het hulle begeer om op te gaar.
Oorweldig deur gierigheid het hul sug bly groei.
Weer het hulle liedere gekomponeer en Okkaka opgesoek:

“Soos water, grond, goud en koring is koeie vir mense— ’n lewensvoorwaarde.
Maak ’n offerhande van jou rykdom, van jou skatte.”

Toe, omgepraat deur die brahmane, het die koning, die heer van die kare
baie honderde duisende koeie as offers geslag.

Inderdaad, nie met poot of horing het die koeie enigiemand gekarnuffel nie.
Sag soos boklammers het hulle emmers vol melk gegee.
Tog het die koning hulle aan die horings beetgekry en met ’n mes geslag.

Maar toe die mes op die koeie val, roep die gode en die voorvaders,
Inda, die asuras en die rakkhasas uit:
“Onreg!”

Daar was vroeër net drie kwellinge: behoefte, honger en verval.
Maar uit die slag van vee het agt en negentig voortgekom.

Die geweldsgruwel kom ’n ou pad.
Onskuldiges word uitgedelg.
Priester-offeraars het uit die waarheid gestort.

Dus word hierdie ou maar kleinlike praktyk deur wyse mense gelaak.
As mense dit sien gebeur neem hulle die priester-offeraar kwalik.

Met eerbaarheid verwoes
het werkers en handelaars van mekaar geskeur,
is krygers wyd verstrooi,
het die vrou die man verag.

Krygers en brahmane en ander wat deur kaste beskerm is
het nie meer oor kaste gepraat nie en onder die mag van sintuiglike genot gekom.’

Ná hierdie woorde het die welvarende brahmane aan die Deurlugtige gesê:

‘Wonderlik, eerbiedwaardige Gotama, wonderlik! Soos wanneer iemand regop sou sit wat omgeval het, sou oopmaak wat toegemaak is, die weg sou aandui vir iemand wat verdwaal is, of ’n olielamp in ’n donker plek sou inbring sodat die wat oë het, vorme kan sien—so het die eerbiedwaardige Gotama die dhamma op verskeie maniere verduidelik. Ons neem toevlug by die eerbiedwaardige Gotama, by die dhamma, en by die sangha. Mag die eerbiedwaardige Gotama ons as leke-dissipels aarvaar wat van nou af vir die res van ons lewens by hom toevlug geneem het.’