Sutta Nipāta 4.1

Skep die skip leeg

As iemand na plesiere sug en sy wens bereik, is hy natuurlik bly
(hy het tog bereik waarna ’n sterfling streef)

maar as plesiere opdroog vir ’n mens wat geprikkel daarna sug
dan kry hy swaar, soos iemand met ’n pyl deurboor.

As iemand ligloop vir plesier asof dit ’n slangkop voor sy voet is
dan oorwin hy—aandagtig—verslawing in die wêreld,

maar as hy smag na grond, eiendom, goud, koeie, perde, vroue,
slawe, knegte, familieverwante en baie plesiere

dan spoel swakhede oor hom, verpletter gevare hom en volg pyn hom
soos water ’n wrakskip binnestroom.

Mens, wees daarom altyd aandagtig, pas op vir sinneplesier
en raak daarvan ontslae;
skep die skip leeg en jy sal die vloed oorsteek,
die Anderkant bereik.