Sutta Nipāta 4.2

Die liggaamsgrotbewoner

Die liggaamsgrotbewoner
vuil-besmeer en waan-bedek
is baie ver van afgeskeidenheid—
wêreldse plesier word moeilik afgeskud.

Gevangenes van lekker-leef
smag wens-gedrewe hunkerend
na vergane en gedroomde vreugdes,
kom moeilik los—en word deur ander nie gered nie.

Gulsig angstig aan luste geheg
en in skaarste suinig daarop gerig
kla hulle hard as dit ellendig begin gaan:
‘Wat gaan van ons word as ons eenmaal dood is?’

Oefen in hierdie lewe
om self niks boos te doen nie
al weet jy dat daar boosheid in die wêreld is,
want soos wyses weet is hierdie lewe baie kort.

Ek sien hoe hierdie geslag
sidder van begeerte om in die wêreld te lewe,
hoe die arme mense klaend huil in die kake van die dood
sonder enige wegkom van die wens na wees en weer-wees.

Kyk hoe spartel hulle rond
in hul ambisies, nes visse in ’n droë rivier.
Kyk, en as jy gesien het, moet jy selfloos swerf
sonder om geheg te wees aan die sirkelloop van lewens.

Be-end jou twee-end drange,
raak aan—en verstaan—sonder verlange,
doen self nooit waarvoor jy andere blameer nie
en hou nooit vas aan wat jy sien en hoor, o wyse.

Verstaan persepsie,
gaan die stroom sonder eiendom oor,
trek die pyl van passie uit, leef waaksaam
en verlang nie na hierdie wêreld of na een wat kom nie.