Sutta Nipāta 4.3
Verknogtheid aan dogma
As ’n nuwe dispuut ontbrand
redeneer party mense met slegte en party met eerlike bedoelings,
maar omdat die wyse aan geen dispuut deelneem nie
is hy nie soos ’n woeste braakland nie.Hoe kan iemand bo sy eie drogdenke uitstyg
as hy deur hartstog gelei in sy eie voorkeure vassteek
en deurentyd sy eie saak bevorder?—
en soos hy dink, so sal hy praat.Dit is onedel gedrag
om by ander met jou eie deugde te spog
en ongevraagd van jouself te praat,
sê die lewensvaardiges.Dit is edel gedrag vir ’n monnik
om kalm, volkome geblus en sonder wêreldse hoogmoed
nooit van homself en sy eie deugde groot te praat nie,
sê die lewensvaardiges.Wie vir homself voordeel sien
in gees-konstruksies (wat tog maar oorsaaklik-bepaald aanmekaar gesit
en onsuiwer is, al word hulle hoe hoog geag), word afhanklik
van ’n stabiliteit deur nie-stabiliteit bepaal.Mens oorwin jou verknogtheid aan dogma maar moeilik,
want jy doen ’n ondersoek van gees-konstruksies en gryp dan een aan;
jy verwerp of verkies dus so ’n konstruksie
in ’n konteks van verknogthede.Geen gesuiwerde mens êrens op aarde
vorm oorsaaklik-bepaalde denkbeelde aangaande hierdie lewe of ’n ander een nie;
waar sou hy, gesuiwer van illusie en ydelheid, heengaan?
want hy is nie meer ingeskakel nie.Een wat ingeskakel is, redeneer oor gees-konstruksies,
maar waaroor en hoe sal mens met een wat nie ingeskakel is nie redeneer?
want daar is niks wat syne of nie syne is nie:
hy het elke dogma afgeskud.