Sutta Nipāta 4.11
Die gestry en getwis
‘Vanwaar al die gestry en getwis,
die verskriklike lyding en die nyd,
die ydel verwaandheid en die agterbaksheid?
Vanwaar dit alles? Kom, verduidelik dit asseblief.’‘Uit die voorkeur vir sekere dinge kom al die gestry en getwis,
die verskriklike lyding en die nyd,
die ydel verwaandheid en die agterbaksheid.
Aan nyd is gekoppel die gestry en getwis,
en die agterbaksheid aan alles wat saamhang met die getwis.’‘Die voorkeur vir sekere dinge in die lewe—
waardeur word dit veroorsaak?
Of die hebsug wat so dikwels in die lewe voorkom?
En die ambisies en die prestasies wat nagejaag word—
waardeur word dit veroorsaak?’‘Deur begeerte word die voorkeure in die lewe veroorsaak,
en die hebsug wat so dikwels in die lewe voorkom,
en die ambisies en die prestasies wat nagejaag word—
dit word alles daardeur veroorsaak.’‘Die begeerte in die lewe—
waardeur word dit veroorsaak?
Vanwaar al die opinies, die woede, oneerlikheid en onsekerheid,
die faktore wat u, o swerwer, genoem het?’‘Begeerte ontstaan op grond van die ervaring
van sekere dinge as “aangenaam” of “onaangenaam”.
Die mens wat vergaan en bestaan in dinge waarneem
vorm ’n teorie oor die wêreld.Woede, oneerlikheid en onsekerheid is daar
waar dinge teenoor mekaar gestel word.
Laat hy wat onseker is oefen op die weg van kennis.
Die swerwer wat die waarheid ontdek het, het dit uitgelê.’‘Ervaringe van dinge as “aangenaam” of “onaangenaam”—
waardeur word dit veroorsaak?
Wat moet afwesig wees om hulle ontstaan te verhinder?
Maak aan my bekend
waardeur die probleem van vergaan en ontstaan veroorsaak word.’‘Ervaringe van dinge as “aangenaam” of “onaangenaam”
word deur kontak veroorsaak.
Hulle ontstaan nie in die afwesigheid van kontak nie.
Ek maak aan jou bekend
dat die probleem van vergaan en ontstaan daardeur veroorsaak word.’‘Kontak—waardeur in die lewe word dit veroorsaak?
Vanwaar al die inhaligheid?
Wat moet afwesig wees om egoïsme te verhinder?
Wat moet ontbreek sodat kontak nie plaasvind nie?’‘Kontak is afhanklik van gees en materie.
Inhaligheid word deur menswees veroorsaak.
In die afwesigheid van menswees is daar nie egoïsme nie.
As vorm ontbreek vind kontak nie plaas nie.’‘Vir watter soort mens is vorm nie reëel nie?
Hoe is geluk en ongeluk nie reëel nie?
Maak nie-bestaan aan my bekend.
My gees wil leer versaak.’‘’n Mens sonder gewone bewussyn, sonder versteurde bewussyn,
sonder geen-bewussyn, sonder vernietiging van bewussyn—
vir so ’n soort mens is vorm nie reëel nie.
Van bewussyn is al die belemmeringe afhanklik.’‘Wat ons gevra het, het u verklaar.
Maak nou asseblief die volgende bekend:
is dit volgens die geleerdes ’n mens se skoonste suiwerheid,
of praat hulle van ’n ander?’‘Volgens sommige geleerdes
is dit ’n mens se skoonste suiwerheid.
Ander beweer dat die voorwaarde bestaan
in die sogenaamde goeie losmaking.En die wyse is hy wat weet wat afhanklikheid is,
wat weet wat die ondersteunende kruk is.
Omdat hy dit weet is hy vry.
Hy begeef hom nie in ’n getwis nie.
Die standvastige is nie gemoeid met die bose lewenskringloop nie.