Sutta Nipāta 4.10
Voor ontbinding
‘Hoe dink en handel een wat “kalm” genoem word?
Gotama, ek vra u, vertel my van ’n volkome mens.’
Die Deurlugtige:
‘Hy is begeerteloos nog voor sy ontbinding,
nie bekommerd oor verlede of toekoms nie,
nie vasgevang in die hede nie,
en sonder voorkeure.Die wyse ken geen woede of vrees, trots of selfverwyt nie,
is nie opgewonde nie, en sy woorde is min en skoon.Hy verlang nie na die toekoms nie en oor die verlede treur hy nie.
Hy skei hom af van sintuiglike prikkels en deur opinies word hy nie gelei nie.Hy is eenkant—nie oneerlik nie, nie kwaadwillig nie,
nie jaloers nie, nie opvallend nie;
sien op niemand neer nie,
en beskinder niemand nie.Hy het nie behoefte aan behaaglikheid nie,
is nie vol eiewaan nie,
nie liggelowig nie
en nie vol afkeer nie,
maar toeganklik en waaksaam.Hy doen nie moeite om iets daardeur te kry nie,
en hy word nie ontsteld as hy niks kry nie.
Hy is vry en hy smag nie na ’n smaak vir lus nie.Hy is altyd gelykmatig en aandagtig,
vorm nie denkbeelde van homself
as die gelyke, die meerdere of die mindere van ander nie,
en is nie ydel nie.Hy is onafhanklik en onverbonde omdat hy die waarheid ken.
Hy het geen begeerte om te bestaan of nie te bestaan nie.Hom noem ek ’n kalm mens—
een wat onverskillig is ten opsigte van begeertes.
Belemmeringe word nie by hom gevind nie.
Hy het die oseaan van verknogtheid oorgesteek.Hy het nie seuns of dogters, grond of eiendom nie.
Hy vind niks in homself waaraan hy vashou as sy eie nie
en niks wat hy verwerp as vreemd aan hom nie.Wêreldlinge, askete en priesters vind fout met hom
en hy is ongewild, maar hulle woorde ontstel hom nie.Die wyse is sonder selfsug en eersug,
praat nie van “meerderes”, “gelykes” en “minderes” nie,
en is nie gesteld op formaliteite nie.Hy besit niks in die lewe nie,
treur nie as daar niks is nie
en leef nie met verwysing na dogmas nie.
Hy word met reg “kalm” genoem.’