Sutta Nipāta 4.9

Leef vrij van dogma

Die Deurlugtige:

‘Selfs by die aanskou van Tanha, Arati en Raga
het ek geen seks begeer nie.
Wat is dit hierdie, vol onrein uitskeiding?
Ek sou nie eens met my voet daaraan wil raak nie.’

Magandiya:

‘As u nie so ’n vrou wil hê nie
—so ’n pêrel deur baie konings begeer—
watter filosofie, etiek, geloftes en lewenspraktyk,
watter toekomslewe verkondig u dan?’

‘Magandiya, die leringe waaraan mense vashou
het ek nagevors—maar ek verkondig niks;
die dogmas het ek sonder vashou deurgekyk—
maar in my soeke innerlike rus gesien.’

‘Wyse man, u praat sonder vashou
van geformuleerde standpunte,
maar hoe beskryf verstandiges
‘innerlike rus’?’

‘Mens kan nie sê dat suiwerheid kom
uit dogma of tradisie of geleerdheid of deug of ritueel
of uit die blote afwesigheid
van dogma of tradisie of geleerdheid of deug of ritueel nie—
laat hom net kalm en onafhanklik
bestaansbegeerte resloos prysgee.’

‘Die opvatting dat mens nie kan sê dat suiwerheid kom
uit dogma of tradisie of geleerdheid of deug of ritueel
of uit die blote afwesigheid
van dogma of tradisie of geleerdheid of deug of ritueel nie—
ek beskou dit as onsin;
natuurlik bereik sommiges suiwerheid deur dogma.’

‘Omdat jy in jou uitvra te midde van alles waaraan mense vashou
van dogma afhanklik is, word jy obsessief—
vandaar dat jy nie verstaan wat ek sê nie
en dit as onsin beskou.

Wie aan homself dink as “gelyke”, “meerdere” of “mindere”
sal om juis daardie rede disputeer;
maar waarom sou ’n brahmaan, ongeraak deur aldrie vergelykings,
vir wie “gelyk” of “meer” of “minder” nie bestaan nie—

waarom sou hy daarop aandring dat “dít die waarheid is”?
Met wie sou hy redekawel oor “vals”?
Met wie sou iemand vir wie “gelyk” en “ongelyk” nie bestaan nie
’n argument aanknoop?

Die wyse mens wat die huis verlaat en woningloos swerf,
wat in die dorp nie vriendskappe smee nie
en vry van lus geen voorkeur het nie—
hy neem nie aan publieke twispraat deel nie.

’n Groot mens leef vry van dogma in die wêreld,
gryp nie daaraan vas nie en argumenteer nie daaroor nie.
Soos die doringsteel-lotus wat in soutwater groei
nie deur water en modder besoedel word nie,
so is ’n wyse mens wat belangeloos vrede leer—
onbesoedel deur wêreldse sinplesier.

’n Mens wat insig gekry het, is nie hoogmoedig
omrede van dogma of kennis nie,
word nie deur prestasie of tradisie beïnvloed nie
en nie in denkvestings inverlei nie;

’n mens wat vry is van persepsies is nie gebonde nie,
en een wat deur wysheid verlos is, het geen illusies nie—
maar hulle wat aan persepsie en dogma vasgryp
loop in die wéreld rond en veroorsaak konflik.’