Sutta Nipāta 4.8
Geen opponent nie
‘Kyk, dít is nou ’n suiwer siening,’ verkondig mense,
en ontsê ander beskouings dieselfde kwaliteit;
diep in hulle aparte waarhede ingegrawe
noem hulle waaraan hulle self verknog is, pragtig.Twisgierig konfronteer hulle mekaar in byeenkomste
en omdat hulle smagtend na applous van ander se dunk afhanklik is
gee hulle hulself in die geredekawel as kenners uit
en skel mekaar oor en weer as gekke uit.In die drukte van ’n byeenkoms word so ’n mens in ’n getwis verstrik
en omdat hy so na applous smag en vernedering vrees
word hy—wanneer hy krities weerlê word—gefrustreerd en bekaf
en soek bewend van woede na swakhede by ander.Word sy standpunt weerlê en as swak bewys
in ’n kritiese toetsing van die kwessie,
dan kla en jammer die een wat dit verkondig:
‘hulle het my oordonder!’Hierdie twisgesprekke ontstaan ook onder askete
en ook hulle smaak soet triomf en bitter neerlaag.
Maar jy, sien deur die getwis en skei uit—
behalwe applous is daar niks te wen nie.Aan die ander kant sal ’n mens wat toegejuig word
as hy daar in die drukte van ’n vergadering
sy punt maak, uit die hoogte lag
omdat hy (soos sy ambisie was) die argument gewen het—maar terwyl hy nog so spoggerig grootpraat
word sy trots die grond van sy ondergang.
Sien dit in en staak die gestry
want daaruit, sê kenners, kom geen suiwerheid voort nie.As iemand soos ’n kryger dikgeëet aan koningskos
opruk op soek na ’n vyand,
gaan hom tegemoet—
maar daar is geen rede meer vir veg nie.As ’n geredekawel ontstaan
en die twistende dogma-grypers
luidkeels beweer ‘dít is die waarheid’-
sê jy dan dat daar geen opponent sal wees nie.Watter vyand sal jy, o Pasura, onder die swerwers vind
wat alle teenstand ontwapen
omdat hulle nie dogma met dogma blokkeer nie
en aan niks vasgryp asof dit die hoogste is nie?Jy met die gees vol bespiegelende gedagtes,
jy het gekom vir ’n kontrovers
en ’n konfrontasie met ’n suiwer mens—
maar met hom sal jy nie ver kan kom nie.