Sutta Nipāta 4.15

Visse in ’n leë dam

‘Tel ’n stok op—en vrees word gebore;
kyk hoe veg mense!
Kom ek vertel van stryd soos ek dit ervaar het:

ek het mense teen mekaar sien spartel soos visse in ’n leë dam,
en ek het bang geword:

die wêreld was sonder sentrum
en aan alle kante aan die beef
en ek het ’n skuiling vir myself gesoek—
maar geen uitkomplek gesien nie.

Uiteindelik, toe ek die mense so sien worstel
het afkeer in my opgekom—
maar toe sien ek die pyl net-net sigbaar
hier in die hart gesteek:

wie deur dié pyl gewond is, storm wild in alle rigtings rond,
wie dit uittrek, hou op skarrel en gaan rustig sit.

Leer hieruit om met wêreldse bande nie gebind te wees nie:
sny singenot volkome uit,
brei jouself in nibbana.

Wyse, wees waaragtig:
nie verwaand nie, nie bedrieglik nie, nie lasterlik nie en nie humeurig nie,
en oorwin die kwaad van gierige hebsug.

As jy jou gees op nibbana gerig het
moet jy slaperigheid, luiheid en traagheid te bowe kom
en nie met agtelosigheid saamleef nie.
Wees nie trots nie

en laat leuen jou nie verlei nie:
swig nie voor uiterlike vorm nie
en deurgrond ydelheid.
Leef geweldloos.

Wees nie opgewonde oor wat oud is
en aanvaar nie maar wat nuut is nie;
treur nie oor wat verlore is
en gryp nie na die leë lug van wat kan kom nie.

Begeerte noem ek ’n groot vloed:
lus gryp jou vas, vou jou toe, sleur jou mee;
deur die moeras van plesier kom jy maar moeilik.

Maar die wyse wat nie van die waarheid afwyk nie
is ’n brahmaan wat op droë grond staan:
omdat hy van alles afstand doen, word hy “kalm” genoem;

omdat hy weet, insig het, die bestand van dinge ken, is hy onafhanklik;
omdat sy weg deur die wêreld reg is, is hy op niemand jaloers nie.

Plesier suig vas, belemmer ons gang deur die wêreld,
maar as jy anderkant uitkom, is treur en kommer verby,
die stroom afgesny,
die bande verbreek.

Laat die verlede verdwyn, die toekoms nie bestaan nie,
los wat tussen-in lê—en jy sal kalm leef.

Troetel individuele bestaan van gees-en-materie glad nie,
treur nie oor wat nie is nie—en jy kan niks verloor nie.

Dink aan niks as “myne” of “ander s ’n” nie,
voel nie besitlik nie—en jy treur nie by die gedagte “ek het nie”.

As jy my vra, sal ek ’n mens wat lof verdien— ’n onwrikbare—só beskryf:
hy is nie bars nie, nie inhalig nie, nie begerig nie, en altyd onpartydig;

hy wéét begeerteloos—en is los van bestaans-kondisionerende faktore;
hy is sonder strewe—en sien oral vrede;

die wyse tel homself nie onder gelykes of minderes of meerderes nie;
hy is kalm en sonder hebsug,
tel niks op nie en gooi niks weg nie’

sê die Deurlugtige.