Sutta Nipāta 4.14
Koel word
‘Ek vra die Sonverwante
oor afsondering en die staat van vrede:
groot Siener,
as ’n monnik tot insig gekom het,
hoe word hy koel,
aan niks geheg op aarde nie?’
Die Deurlugtige:
‘Hy kap die hele wortel uit:
die begripsvermenigvuldiging, die denkbeeld dat “ek” is;
en al-aandagtig, leer hy sy binne-drange teuel.By geen leer steek hy koppig vas nie
of hy dit nou van binne ken of van buite by ’n ander hoor—
dit word nie “afgekoel” genoem nie.Projeksies van homself ontwerp hy nie
en dink nie aan homself as enigeen se meerdere of mindere of gelyke nie—
al ontmoet hy ook watter mens-statuur.In homself vind die monnik vrede—
soek dit nêrens anders nie, en as hy vrede binne het,
gryp hy niks en verwerp hy niks.’n Monnik rus stil begeerteloos
sonder deining van die gees, soos die stil diepte van die see
waar geen golwe rys nie.’‘Oop-oog Getuie,
u verkondig díe dhamma
wat alle gevaar besweer;
Heer, leer nou die weg:
die dissipline;
en die konsentrasie.’‘Sy oë dwaal nie rond nie,
sy ore is vir dorpsklets toe en na smake lus hy nie:
hy koester niks op aarde nie.’n Monnik kla oor niks:
al is hy deurtrek van siekte en pyn, klewe hy nie aan lewe nie
en bewe nie van skrik nie.Hy gaar nie op
as hy rys en ander kos of melk of klere kry nie,
en is nie ontsteld as hy niks kry nie.’n Monnik mediteer;
drentel nie, het geen selfverwyt nie, is nie lui nie al sit of lê hy,
en in ’n stil plek woon hy.Hy maak nie veel van slaap nie,
beoefen wakker waaksaamheid, en hy laat vaar
luiheid, leuen, lag, speel, seks en optooi.My dissipel hou hom nie besig met
towerformules, drome, tekens, astrologie, dieregeluide,
swangerskappe en genesing nie.’n Monnik skrik nie vir kritiek nie;
as hy geprys word swel hy nie van trots nie, en hy verdrywe
gierigheid, suinigheid, woede en kwaadpraat.’n Monnik koop nie en verkoop nie,
soek nie fout by ander nie, neem nie deel aan die dorpsgeswets
en smeek niks van mense af nie.’n Monnik praat nie groot nie,
sy woorde is nie agtelosig of brutaal nie,
en hy twis nie.Hy vertel geen onwaarheid nie,
is nie berekend skelm nie en sien op niemand anders neer
omrede van lewenswyse, insig, kode en rite nie.Hy antwoord nie bars
by die aanhoor van askete en gewone mense se uittartende gepraat nie—
helder mense slaan nie terug nie.’n Monnik ken die waarheid;
hy ondersoek en beoefen dit gedurig aandagtig, en wetend dat geluk “vrede” is
wy hy hom volkome aan Gotama se leer;hy is onoorwonne oorwinnaar
want hy het die waarheid met eie oë gesien en met eie ore gehoor;
en noukeurig en immer eerbiedig
volg hy die Deurlugtige se leer’—
sê die Deurlugtige.