Sutta Nipāta 1.1

Vervelling

Die monnik wat van opstuwende woede ontslae raak
(soos teëgif van gif deur die liggaam versprei)
ontgroei hierdie wêreld en een hierna soos ’n slang sy verslete vel.

Die monnik wat hartstog tot niet maak
(soos ’n lotusblom in die water gepluk)
ontgroei hierdie wêreld en een hierna soos ’n slang sy verslete vel.

Die monnik wat begeerte tot niet maak
(soos ’n rivier in vloed opdroog)
ontgroei hierdie wêreld en een hierna soos ’n slang sy verslete vel.

Die monnik wat ydelheid verpletter
(soos ’n oorstroming ’n bruggie van riet)
ontgroei hierdie wêreld en een hierna soos ’n slang sy verslete vel.

Die monnik wat geen pit soek in wat kom en gaan nie
(so min as blomme aan ’n vyeboom)
ontgroei hierdie wêreld en een hierna soos ’n slang sy verslete vel.

Die monnik wat geen bitterheid omdra nie
(elke vorm van menswees deurleef)
ontgroei hierdie wêreld en een hierna soos ’n slang sy verslete vel.

Die monnik wat analitiese denke verstrooi
(innerlik volkome gerig)
ontgroei hierdie wêreld en een hierna soos ’n slang sy verslete vel.

Die monnik wat nóg rusteloos nóg traag is
(deur al hierdie sinsbedrog heen)
ontgroei hierdie wèreld en een hierna soos ’n slang sy verslete vel.

Die monnik wat nóg rusteloos nóg traag is
(wetend dat alles in die wêreld onwesenlik is)
ontgroei hierdie wéreld en een hierna soos ’n slang sy verslete vel.

Die monnik wat nóg rusteloos nóg traag is
(wetend sonder hebsug dat dit alles onwesenlik is)
ontgroei hierdie wêreld en een hierna soos ’n slang sy verslete vel.

Die monnik wat nóg rusteloos nóg traag is
(wetend sonder begeerte dat dit alles onwesenlik is)
ontgroei hierdie wêreld en een hierna soos ’n slang sy verslete vel.

Die monnik wat nóg rusteloos nóg traag is
(wetend sonder afkeer dat dit alles onwesenlik is)
ontgroei hierdie wêreld en een hierna soos ’n slang sy verslete vel.

Die monnik wat nóg rusteloos nóg traag is
(wetend sonder verblinding dat dit alles onwesenlik is)
ontgroei hierdie wêreld en een hierna soos ’n slang sy verslete vel.

Die monnik wat geen bose neigings het nie
(die wortels van kwaad uitgehaal)
ontgroei hierdie wêreld en een hierna soos ’n slang sy verslete vel.

Die monnik wat geen sorge het nie
(die grond van hierdie bestaan)
ontgroei hierdie wêreld en een hierna soos ’n slang sy verslete vel.

Die monnik wat geen behoefte het nie
(die oorsaak van lewensverknegting)
ontgroei hierdie wêreld en een hierna soos ’n slang sy verslete vel.

Die monnik wat die vyf belemmeringe uitgeroei het
(rustig, seker, kommervry)