Sutta Nipāta 1.2
Sekuriteít
Dhaniya:
‘My rys is gekook en my koeie gemelk;
ek woon op die wal van die Mahi;
my huis is gedek, my vuur aan die brand—
kom gerus as jy wil, o reën!’
Die Deurlugtige:
‘My woede is weg en my traagheid verdwyn;
ek bly ’n nag op die wal van die Mahi;
my huis staan bloot, my vuur is geblus—
kom gerus as jy wil, o reën!’‘Vlieë en muskiete is hier geen;
my beeste wei in ’n kamp vol gras
en sal ’n storm oorleef al bars dit los—
kom gerus as jy wil, o reën!’‘Ek het ’n sterk vlot gebou,
laat los, die rivier oorgesteek;
’n vlot is nou onnodig—
kom gerus as jy wil, o reën!’‘My vrou Gopi is getrou en standvastig;
ons is al lank gelukkig saam;
ek hoor geen kwaad van haar nie—
kom gerus as jy wil, o reën!’‘My gees is getrou en vry,
is al lank geoefen en getem;
daar is geen kwaad in my nie—
kom gerus as jy wil, o reën!’‘Ek onderhou myself;
my seuns is almal gesond;
ek hoor geen kwaad van hulle nie—
kom gerus as jy wil, o reën!’‘Ek is niemand se huurling nie
swerf oral met net wat ek verwerf;
geen loon word gevra nie—
kom gerus as jy wil, o reën!’‘Ek het rykdom, kalwers,
dragtige koeie, stoetvee,
’n bul wat die trop lei—
kom gerus as jy wil, o reën!’‘Ek het geen rykdom, kalwers,
dragtige koeie, stoetvee,
’n bul wat die trop lei nie—
kom gerus as jy wil o reën!’‘Die pale is stewig ingeplant,
die nuwe grastoue in goeie toestand;
selfs die kalwers sal hulle nie kan breek nie—
kom gerus as jy wil, o reën!’‘Soos ’n bul het ek die bande gebreek,
soos ’n olifantbul deur die rankers gebars;
“ek” sal nie weer gebore word nie—
kom gerus as jy wil, o reën!’Hoogtes en laagtes word oorstroom toe ’n donderstorm skielik losbars.
Luisterend na die gedreun van die reën sê Dhaniya:‘Groot inderdaad is ons voordeel—
ons wat die Deurlugtige gesien het;
Insigvolle, ons neem toevlug by u;
Groot Wyse, wees u ons Meester.Getrou aan u, Welgekome, sal ek en Gopi
ons toewy aan die heilige lewe;
ons sal geboorte en dood oorskry,
’n einde maak aan die verdriet.’Mara die Bose:
‘Wie kinders het, het vreugde van die kinders;
wie beeste het, het vreugde van die beeste,
want lewensverknogtheid is die held se vreugde;
wie nie begeer nie het nie vreugde nie.’Die Deurlugtige:
‘Wie kinders het, het leed van die kinders;
wie beeste het, het leed van die beeste,
want lewensverknogtheid is die held se leed;
wie nie begeer nie het nie leed nie.’